19 Mei 2013

My kollega se rustelose poedel

Mitzi - die rustelooste poedel OOIT!
"Gerrit, ek gaan op vakansie. Sal jy my huis oppas?" My kollega, Nico, draai nie stokkies om as hy iets vra nie. Hy vra dit.
 
"Ja, sure. Met liefde", antwoord ek. Op daardie stadium het ek vergeet van Mitzi, sy middelkind-dogter se poedel. Woelig. Besig. Energiek. Alles woorde wat my beskryf.
 
Rusteloos, soos ek.
 
Sy lek my wakker in die oggende. Sy hardloop omtrent die deur af wanneer ek by die huis kom. Sy spring op, en op, en op, tot ek vir haar aandag gee.
 
Mitzi bring rusteloosheid tot op 'n ander vlak.
 
Sy sal rustig lê en slaap, en dan onverwags opspring. Ek sweer sy word wakker en spring op in dieselfde oomblik.
 
Vir 'n week was ek en hierdie poedel maatjies in die aand terwyl Nico en die vrouens in sy lewe (sy vrou, drie dogters en moeder) by die Natalse see baljaar.
 
Soms het Mitzi my die mure uit gejaag, en ander male was dit so lekker om met die wit spookasempie, my bynaam vir haar, te speel.
 
Soos Mitzi is ek ook rusteloos. Altyd opsoek na avontuur, wat my laat wonder het, wat is dit wat my rustig maak.
 
Tyd saam met die mooiste vrou op aarde maak my rustig, maar dis eers sedert ek haar leer ken het 'n paar maande gelede. Sy vind ook rus by my, maar ook by die plek waar ek dit eerste soek.
 
Daar was egter 'n dag wat my onverwags gevang het. Die dag waarop hierdie Rustelose Rakker rus gevind het.
 
Augustinus, 'n ou kerk leier wat geleef het na Jesus, en voor die middeleeue begin het, het dit so beskryf:
 
Die hart is onrustig tot dit rus vind in U...
 
Dis die kort weergawe.
 
Voor daardie mooi dag toe ek die Here se Koningskap oor my lewe aanvaar het was ek rusteloos op 'n ander manier as tans. Ek was opsoek na iets, en daardie dag het ek dit gevind.
 
'n Verhouding met die lewende God.
 
Sedert daardie dag is my rusteloosheid opsoek na nuwe plekke om Sy genade te vind. Diè skuil op baie plekke. Dis in Sy Woord, in Sy mense se lewens, rolprente, lofprysing, selfs net om die mooiste vrou op aarde se hand vas te hou.
 
Waar ookal dit is, jy vind dit nie in jou gemaksone nie.
 
Die stories oor hoe groot se genade is vind jy buite jou gemaksone.
 
En soms vind jy dit selfs in die rustelose lewe van jou kollega se poedel, wat bloot haar rusteloosheid uitleef, ongeag my gille vir haar om rustig te raak.
 
Dankie spookasempie! Jy het my herinner om rus te vind waar dit altyd te vinde is. By Hòm...