Almal wat my ken weet ek is ‘n rakker. Altyd opsoek na nuwe avonture.
Altyd woelig.
Daar is egter een wat rakkerwees beter reg kry as ek. Sy naam is
Kallie. Hy is ‘n Jack Russell wat slegs 7.1 kg weeg. Hy besit die titel van
rakkerwees in die honde wêreld.
Kallie is egter nie my Jack Russell nie. Hy is Chanelle se
bondeltjie-woeligheid-hond. Ek en Kallie het mekaar ontmoet toe ek die eerste
keer vir Chanelle gaan kuier het. Ek wou hallo sê. Hy wou, soos baie
testoroon-belaaide reuntjies, my been met al vier pote gryp en nie los nie.
“Nee, Kallie!” Ek het hom dadelik vasgevat, en nie soos hy my vasgevat het nie,
as jy verstaan wat ek bedoel.
Die “beengryp” was sommer ‘n manier wat hy wou wys dat hy die baas op
die werf is.
Na die “nee Kallie” sou hy dit ook nie weer doen nie.
Kallie wou wys hy is baas, maar wat hy gevind het was ‘n vriend. Ons is
albei rakkers, en daarom verstaan ons mekaar. Daarom kan ons vriende wees.
Daarom kom ons ook albei nader gehardloop geroep wanneer Chanelle skree:
“Rakker! Ons gaan nou stap.”
Ons is albei rakkers, Chanelle se rakkers. En terwyl sy in die Kaap is,
en ek hier, is dit lekker om te weet dat daar ‘n ander rakker as ek is wat ook
verseker dat sy veilig is.
Chanelle is egter ‘n rakkerin. Die vroulike vorm van rakker. Die van
julle wat haar ken sal weet watter rakkerige dinge sy al aangevang het. Ook
haar rakkerwese is besmet met stories wat jou tone laat krul van die lag.
Daarom is dit ook gepas dat ons drie saam is. Ek, die rakkerin, en die
klein Jack Russell rakker, Kallie.
Drie rakkers, saam opsoek na avonture. Drie rakkers wat jy kwalik kan
vaspen. Drie rakkers wat jy nie sommer onder kry nie, maar altyd vinnig aan die
beweeg.
Ons drie se rakkerigheid was juis duidelik sigbaar laas week. Chanelle
het oudergewoonte geroep: “Rakker! Ons gaan stap”, en oudergwoonte het ek en
Kallie voor haar kom staan. Sy het ons ALBEI se halsbandjies aangesit... Okey,
so ek moet bieg... Kallie het nie ‘n halsbandjie nie. Net ek...
In die pad gekom begin ons draf. Eers draai ons links, dan regs, dan
terug, en dan weer links in die rigting van die huis. Deurmekaar? Moenie wees
nie. Dis makliker verstaanbaar wanneer jy dit stadig lees.
Ons hardloop ‘n roete wat Chanelle (hierna bloot bekend as Rakkerin) gewoonlik met Kallie (hierna
bekend as Klein Rakker) hardloop.
Na ‘n kilometer of twee besluit Rakker (die derde persoon eienaam vir
myself) en Rakkerin om verder te hardloop as gewoonlik, aangesien dit nog lig
is. Rakkerin het nog nie so ver gedraf nie, en aangesien Rakker daar is om haar
te beskerm, kan hulle avontuurlis bietjie oorneem. Klein Rakker draf net saam.
Tussendeur stap hulle ook ‘n bietjie, hierdie drie rakkers.
Rakkerin se huis raak egter ver, maar die moed om nuwe plekke te ontdek
is sterk. Op hul pad ontmoet hul ‘n paar honde, maar hierdie honde is nie soos
Klein Rakker nie. Hulle bly in hul halsbandjies en probeer nie aanhoudend
ontsnap soos hy nie.
Nota: Vir die van julle wat regtig
gedink het dat ek die halsbandjie dra en nie Kallie. Julle het geen sin vir
humor nie, en moet asseblief al Trevor Noah en Barry Hilton se dvd’s kyk.
Klein Rakker kry dit natuurlik ook reg om een keer uit sy halsbandjie
te ontsnap. Rakker hardloop hom egter in waar hy hardloop om ander honde se
geselskap te verken. Klein Rakker draai om, en dan regs, waar Rakkerin vir hom
wag. Hy probeer wegglip na links en Rakkerin mis hom. Rakker is egter vinniger
as hy en vang hom ‘n paar oomblikke later waar hy probeer wegkruip teen ‘n
struik in iemand se tuin.
Hierdie is nie die eerste keer wat Klein Rakker probeer ontsnap het
nie. Telke male het dit gebeur dat Rakker en Rakkerin hom moet bersipe wanneer
hy sy halsbandjie wil afeet. Ontsnap is Klein Rakker se grootste avontuur, sy
enigste gemaksone sy grys hokkie. Hierin moet hy vervoer word sodat hy nie
ander hondjies bespring soos wat hy Rakker se been met hul ontmoeting bespring
het nie.
Met Rakkerin wat kyk dat Klein Rakker nie ontsnap nie, help Rakker ‘n
huiwerige Klein Rakker om in sy halsbandjie te klim, wat amper soos ‘n
onderbroek lyk, maar eerder van bo af aangetrek word. Die ding is rooi.
Weer aan’t stap. Die drie rakkers.
Dit raak donker.
Rakker loer vir Rakkerin: “Die son is weg.”
Sy glimlag en kyk na hom: “Ons draai links
daar tussen die huise in. Daar behoort ‘n pad oor die bult te wees, en dan is
ons terug by die huis teen die tyd wat die donker soos ‘n kombers oor
Durbanville neersak.”
Rakker soen haar terwyl Klein Rakker weer
knaag aan sy halsband wat lyk soos ‘n rooi onderbroek. Die ander twee kom dit
egter nie agter nie. Wanneer hulle mekaar soen staan die wêreld stil. Klein
Rakker knaag, karre storm in hul bane op die pad nie ver van hulle nie. Maar
hul lippe is stil teen mekaar s’n. Hierdie tipe liefde kan boeke oor geskryf
word, inspireer gedigte en verander die wêreld.
Hul soek ‘n roete deur die woonbuurt. Geen
geluk nie. Links draai was toe nie ‘n oplossing nie.
“Skat”, praat Rakker eerste: “Ek dink ons
moet hier uitkom, terug gaan na die besige pad, en dan links draai in die
rigting van daardie pad wat ons weet terug gaan huistoe.”
Rakker en Rakkerin ondersoek ‘n paar
moontlike roetes deur ‘n donker veld. Rakker wil eerder nie die kans waag nie,
en Rakkerin stem saam.
Hulle draf die voorgestelde roete terug, maar
kom toenemend agter dat Klein Rakker moeg is. Hy is egter nie een vir opgee
nie. Wanneer hulle stap, stap hy. Wanneer hulle draf, draf hy.
Rakker en Rakkerin kuier intussen dat dit
klap. Hulle is mal oor mekaar se geselskap, mekaar se alles.
Rakkerin: “Hoe ver, dink jy, het ons gedraf?”
Rakker: “Agt kilometer. Ek dink.”
Rakkerin: “Liefie. Dis ten minste tien
kilometer.”
Rakker: “Kan maklik wees, skat.”
Rakkerin: “Dis ver, liefie.”
Rakker: “Yes. Ons Klein Rakker gaan lekker
slaap vanaand!”
Die laaste vier kilometer ruk Klein Rakker
gereeld hand uit, en hulle draf maar eerder as stap. Hy kan nie handuit ruk
wanneer hy draf nie. Ander kere dra Rakker vir Klein Rakker, wie se hartjie
aggresief klop.
Drie rakkers draf tot by die voordeur – terug
by die huis. Twee ure nadat hulle weg is. Binne die huis drink Klein Rakker al
die water in sy bakkie op, en Rakker al die water in die yskas. Rakkerin kyk
net, skud haar kop, en gimlag.
“Ons moet gaan kyk hoe ver dit was”, sê Rakkerin.
“Ek stem saam. Maar kan ons eers eet?”
Rakkerin lag, stap na Rakker toe waar hy sit,
en soen hom op sy voorkop waar hy sit op die bank: “Natuurlik kan ons.”
Terwyl Rakker en Rakkerin kos maak lê Klein
Rakker in sy mandjie en slaap. Rakker haal Klein Rakker se rooi onderbroek uit
en swaai dit voor hom. Gewoonlik spring hy op en probeer dit gryp. Nie die keer
nie. Klein Rakker is duidelik te moeg om verder te kuier met die ander twee
rakkers. Hy lê net.
Na ete en ‘n warm stort ry Rakker en Rakkerin
om die afstand wat hulle gedraf-stap het te meet. Die roete deur Durbanville
wat antikloksgewys vanaf Rakkerin se huis terug na haar huis beweeg is 10.1
kilometer.
Hulle kyk vir mekaar en lag. “Ons Rakker is
werklik ‘n yster, skat”, sê Rakkerin.
Hy loer deur die venster en sien Klein Rakker
in sy mandjie. Veilig. Rustig. Geliefd.
Terwyl Rakkerin by die deur instap gryp
Rakker haar hand: “Jy’s beeldskoon, Chanelle. Ek is mal oor jou.” Hy soen haar
terwyl sy haar arms stadig oor sy skouers sit en sy nek vashou.
Rakker vat sy regterhand en maak die deur
toe. Drie rakkers het ‘n aand vol avonture gehad.