Jou grootste bate kan soms jou grootste uitdaging wees.
Vra maar enige iemand wat al moes wag vir sy ouma om haar inkopies klaar te maak. Veral nie as jy die spreekwoordelike hooi die spreekwoordelike vurk wil breek nie.
Gister was besiger as een van Johan Stemmet se onderbaadjies. Tussendeur moet ek die brei-ding aangryp.
Die plan was om teen 14:30 weer aan't brei te raak, maar daardie plan was nek omgedraai deur die spreekwoordelike hooi op die spreekwoordelike vurk. En hoe meer die hooi raak, hoe rusteloser raak ek.
Ek wil nou brei.
Na ek Chanelle by die werk gaan oplaai het, hier in die mooiste Kaap, gaan drink ons eers koffie en praat oor ons elkeen se dag. Dit verruil ek vir niks. Nie eers vir Elton John se handtekening nie.
Nà dit is ek darem rustiger oor alles wat nog moet gebeur.
Kort voor donker gister middag kry ek uiteindelik kans om te brei. YES! Daar's net een uitdaging, en dis 'n groot een. Ek het intussen vergeet hoe.
Daardie naald moet tussen daardie draadjies deur. Nee, wag. Dit werk nie. Damn it! Hoe werk dit nou weer!
As ek net daardie eerste steek kan kry. As ek net daardie eerste ry weer kan kry!
Ek hou aan praat en baklei met myself.
Come on, Gerrit! Jy weet mos hoe! Jy kan dit doen! Go for it! Hou net aan probeer. Jy sal dit regkry.
Dit was duidelik dat hierdie uitdaging besig was om my buite my gemaksone te frustreer. Dit is in sulke oomblikke wat jy moet kies om aan te hou, of nie.
Ek het gekies om aan te hou.
En ek is bly ek het.
O ja, wag. Hierdie een moet daar in, en dan bring ek daardie een so oor, en dan... YES!!! Ek het dit weer!
In daardie oomblik toe ek weer besef het hoe om te brei, en dit regkry, het my dag se oorwinning gelê.
Sekere dae moet jy seker net die eerste steek regkry. Sekere dae is frustrerend. Maak vrede daarmee. Sekere dae is rugby speel op Nuweland in die modder. Dis taai, dis nat, dit reën. Die uitdagings voel te veel.
In daardie dae moet jy besluit of jy gaan tou opgooi, of volhard.
As jy volhard, is jy die oorwinnaar. Dit voel egter nog nie so nie, maar dis waar. Die oomblik wanneer jy die besluit neem om te volhard het jy reeds die eerste tree na sukses gegee.
Die Bybel sê êrens: "Volharding kweek egtheid van geloof."
Deur jouself uit te daag leer jy jouself, jou eie vermoëns beter ken, maar ook vir God!
Wat het ek gister oor geloof geleer. Dit word sterker as jy volhard. Deur jouself buite jou gemaksone uit te daag en dit te doen kan jy God op 'n wonderlike manier leerken, en kan jy in geloof groei.
Wanneer jy in geloof groei, kan jy nog groter uitdagings beetpak, maar jy moet begin in die klein dingetjies. Jy moet begin by die eerste steek.
Bly in jou gemaksone, en jy het egter niks!