Wanneer ons gemaksones geskut word kan dit baie seer wees!
Dink maar aan die dogtertjie wat elke aand bid dat haar ouers nie moet skei nie. Dis 'n gemaksone, in hierdie geval 'n veilige ruimte, wat geskud word. Gemaksones kan seer maak.
Maar ander kere is dit die idee dat dit sal seer wees wat die seerste maak. Soms is ons vrees om 'n gemaksone te verlaat, een van myne was naalde en bloedskenk, nie gegrond nie.
My vrees vir naalde en veral bloedskenk, was ongegrond.
Ek het vir jare lank in 'n gemaksone geleef wat nie nodig was nie.
Ons persepsies is soms ons grootste gemaksone, en as ons daardie gemaksone kan uitdaag, kan ons baie meer vermag as wat ons ooit besef!
So vir die nuuskieriges, hier is my bloedskenk-verhaal.
Na ek bitterlik vroeg wakker word en een koppie koffie drink jaag ek na die eerste skool waar ek 'n Pinkster diens moet aanbied. Daar is drie.
Eers na Laerskool Whitfield, en daarna 'n vergadering saam met die ander dominees van ons Ring. Die venue: Wimpy. Waar ek myself kan verlustig in iets om te eet.
Daarna Laerskool die President in Primrose. Net voor 11:30 spring ek in my kar en jaag na die volgende Pinksterdiens, die keer in Engels by St Michaels Privaatskool in Boksburg se midde-dorp.
Ek was nie lank klaar nie toe Jaco bel: "Gaan jy nogsteeds bloedskenk vandag?"
"Verseker", antwoord ek.
"Hoe laat gaan jy?"
"Ek sal oor tien minute daar wees. Sien ek jou daar, Jax?"
"Yes. Ek is by die East Rand Mall. Sien jou daar."
"Nice! Sien uit daarna!"
Ons groet mekaar soos goed opgevoede Afrikaners en nie lank daarna nie stop ek by SANBS - South African National Blood Service.
Die oomblik van waarheid.
Dit voel asof ek ondervra word soos 'n dwelmdief in die vorms wat ek moet invul, maar doen dit met 'n glimlag.
Ek sit al in die stoel en wag vir die steekding om in my arm gedruk te word toe Jaco daar in stap.
"Het jy al iets geëet? Drink iets! Dit vat aan jou die eerste keer wat jy dit doen!"
"Klink goed. Kom ons maak so!"
Oppad na een van die grootste bakke koekies wat ek in my lewe gesien het, neem ons 'n foto!
Sover gaan dinge goed!
'n Vrou met 'n Afrika naam wat ek te simpel voel om te vra hoe om uit te spreek druk die steekmasjien in my arm.
Sover gaan dinge goed!
Ek en Jaco kuier lekker, en hy neem 'n foto!
Na so tien minute begin dinge egter dronkerig rondom my raak. Dit voel asof ek op matriek vakansie is, minus die drank.
Ek ken hierdie gevoel. Ek het dit al baie beleef. Soos die keer toe ek in grad 5 kop eerste in 'n paal in getekkel was, en flou val. Of die keer in 'n rugby wedstryd teen Potch Gym toe ek van agter af getekkel was en my kop drie keer die grond tref en ek na twee probeerslae om op te staan neerval.
Ek gaan nou flou val.
'n Koue sweet tap my af, en Jaco vra of ek okey is. My tong sleep so bietjie, soos die keer toe 'n ouer seun my in grad 6 van my voete af geslaan het. Hom, kon ek darem terug bykom. Sy tong sleep glo nou nog.
"Ek dink ek gaan flou val."
"Jy't te lanklaas geëet. Hier vat 'n koekie." En ons begin 'n veldtog om omtrent 12 koekies te eet.
Vir die record, ek het nie flou geval nie. Ek het net nie lekker gevoel nie!
Ek weet, dit lyk nie goed nie. Dit was amper, maar die meisie met die snaakse Afrikanaam kom haal die naald uit.
Jaco lag. Ek skud my kop so sewe keer en trek my oë groot oop soos 'n uil s'n.
Ons drink koffie (dis verniet, en word hoogs aan bevel), en sê totsiens vir mekaar.
"Thanks, Jaco. Dit was lekker om buite my gemaksone te beweeg met jou by my. Dis 'n voorreg."
"Vir my ook." Jaco se rustige en nederige gees sal hom nog lank help in die toekoms!
Ek klim in my kar en ry huis se kant toe, waar ek begin beplanning doen vir Sondag se kinderkerk, asook die blikzim-projek.
Dit was nie so erg soos ek gedink het nie. Om die waarheid te sê, dit was 'n avontuur.
Een wat ek oor presies twee maande sal herhaal, al steek dit so bietjie!
Naalde en persepsies. In hierdie geval was naalde die persepsie!
09 Mei 2013
08 Mei 2013
'n Rustelose naaldvrees!
Môre gaan ek bloedskenk, en ek moet eerlik wees. Ek is so bang vir naalde soos 'n hond is vir vuurwerke. Anders as ons blaffende vriende kruip ek darem nie onder my bed weg as iemand een van daardie steekgoed naby my bring nie.
Naalde is buite hierdie Rustelose Rakker se gemaksone!
Naalde, ook bekend as steekgoed, steekmasjiene of iets soortgelyk!
En die feit dat hierdie steekgoed so buite my gemaksone is kom van ver af.
Die eerste rede is seker maar omdat ons almal van kleins af vertel word dat as jy jouself met 'n naald steek jy per ongeluk VIGS kan kry. Dan is daar natuurlik die vermanings dat dwelmverslaafdes ook die goed gebruik, en jy wil ook nie soos hulle opeindig nie.
Op laerskool het daar een keer 'n ou kom praat wat cocaine gesnuif en een of ander verf of mayonnaise binne-aars gespuit het. Die kêrel het nie tande gehad nie.
As laerskool kind het ek dus die volgende sinoniem gemaak. Naalde = geen tande. En ek is lief vir my witgepoetste vriende.
Verder was daar ook die geval in graad 6 toe ons vratjies van my vingers af moes brand. Dit moes egter eers doodgespuit word. Weereens, DOOD-gespuit. Nie 'n goeie term nie. Die oomblik toe die dokter die naald in my vinger indruk, en dit was een van daardie naalde wat dik genoeg was om 'n U-turn met 'n trein in te doen, het my bene lam geraak soos 'n dogtertjie in die voorste ry by 'n Justin Bieber konsert.
Onder is daar 'n foto van die gesigsuitdrukking wat ek gehad het toe dit gebeur het, asook 'n voorbeeld van die steekmasjien wat gebruik was...
Nie een goeie ervarings nie.
Tot vandag toe bly naalde buite my gemaksone. Soos die bra in Sjina wat 2008 naalde in sy gesig gedruk het. Dit lyk net nie normal nie... Weereens, sien foto onder aan!
Die idee daarvan om 'n naald in jou liggaam te druk en rond te wikkel tot die tannie in die wit jas genoeg bloed uit jou getrek het en jy dit sien gebeur is 'n uitdaging vir my.
Die idee dat dit vir omtrent 'n halfuur lank gebeur is buite my gemaksone, MAAR...
Gemaksones is daar om uit te daag!
En more daag ek hierdie gemaksone rondom naalde en bloedskenk finaal uit.
Ek weier om in vrees te leef!
Hierdie Rustelose Rakker gaan bloedskenk!
Die beste ding wat kan gebeur is dat my bloed dalk iemand kan help!
Onthou: Die avontuur begin die oomblik wanneer jy jouself buite jou gemaksone uitdaag!
07 Mei 2013
Gemaksones, koue vinger en naalde
So staan ek toe maar en wag vir die vlug na Johannesburg wat laat is, en dink: "Dit sou darem nou lekker wees om te kon brei terwyl ek hier wag."
Eerste prys sou wees om nog saam met Chanelle te kon kuier, maar dit sou nie kon gebeur nie. Ons het mekaar reeds vaarwel gesoen toe ek deur hekke gaan. Dit was eers na ek die hekke deur was wat die vliegmasjien nie sy afwagting maak nie.
Daar is egter net een probleem met breinaalde op 'n vliegtuig.. Dis onwettig. En ek verstaan dat dit spesifiek 'n probleem sou wees as ek wou brei op die vlug. Ek is 29 jaar oud. Meeste 29 jarige mans brei nie. Wel, nie die ouens wat ek ken nie. 'n Ou tannie wat met haar kierie en haar breiwerk op die lughawe stap na die vliegtuig sal waarskynlik nie ongemak by ons baie aggresiewe polisiediens veroorsaak nie. Ek, aan die ander kant, kan dalk net ge-spear têkkel word en my kop diskant my knersderm vasgebind bevind as ek dit waag.
Om jou breiwerk op 'n vlug tussen Kaapstad en Johannesburg in te smokkel is nie net buite mens se gemaksone nie. Dit kan jou in jou tronk laat beland.
Tronke is koud. Koue plekke maak jou vingers ook koud. Brei met koue vingers is nie lekker nie. Dis nou as jy toegelaat word om in die tronk verder te brei.
Brei, kan duidelik 'n gevaarlike speletjie wees.
Daar is 'n duidelike verskil tussen jouself buite jou gemaksone uitdaag, en onverskillig wees. Daar is 'n verskil tussen rusteloos en ondeurdagt dinge aanpak.
Ek is ongelukkig nog nie klaar met die serp nie - dis harde werk. Maar ek gaan nie tou opgooi nie. Ek gaan voort, maar ek... kort ook nog 'n uitdaging.
Naalde. Ek is bang vir naalde. Soos 'n driejarige seun is vir skoene dra of bad. Ek hou nie van naalde nie. Veral nie van daardie wat in jou ingewurg word as jy wil bloedskenk nie. Daardie naalde is dikker as meeste van daardie aggresiewe polisiemanne waarvan ek gepraat het se nekke.
Naalde. Ek kry koue rillings as ek daaraan dink.
Ek het nog nooit bloed geskenk nie. Ek is te bang. Môre sal ek vertel waarom ek nog witter raak as wat ek reeds is wanneer ek daardie naald sien.
Die belangrikste is die volgende: Hierdie week gaan Rustelose Rakker bloed skenk!!
Dit is verder buite my gemaksone as wat daardie ander ou die ander dag 'n krieketbal in die IPL geslaan het.
Volg gerus my blog, en onthou, die avontuur begin die oomblik wanneer jy buite jou gemaksone beweeg!
Teken in op:
Plasings (Atom)