Hierdie vraag het my al van alle kante getref. Vriende, vreemdelinge en gemeentelede wou al weet. Wat doen 'n predikant heeldag. Wel, ek kan nie vir al die p-woorde daarbuite praat nie, maar dis waarmee hierdie Rustelose Rakker-predikant heeldag besig was.
Vir die rekord: 'n P- woord is enige iemand wat die titel van geestelike leier beklee. Predikante, priesters, pastore, pastors, proponente, pouse en profete. Almal p-woorde.
Die blackberry het my wakker gegil om 05:30. Ek wou lees. Ek het egter gesnooze tot 'n bietjie later. Chanelle sou my 06:00 gebel het, maar ook sy het snooze gedruk. Net voor 7 spring ek op en trek iets aan waarmee ek in die publiek gesien kan word - 'n sweetpak broek en tekkies.
Bestemming: Hoërskool Oosterlig. Rede. 'n Naamlys by Carla, een van ons gemeente se tieners kry. Haar span word gekombineer om deel te word van een van ons gemeente se ander tienerspanne vir die Sunfest more aand. Die Sunfest is ons gemeente se spinnathon. Almal neem deel. Ook ek het 'n paar spanne georganiseer.
In die kar bel ek vir Chanelle en ons kuier vir 'n paar minute en bid ook saam. Albei oop oë egter. Sy hou die foon met een hand vas terwyl sy vir Kallie, haar Jack Russel kos gee, en ek moet op die pad kyk.
Ek kry die lys en kuier vir twee oomblikke met 'n paar tieners wat my gewaar. Ek jaag terug huistoe, en gaan bad vining. Ek doen egter meer as net bad. Ek lees sommer gou 'n artikel oor Bradley Cooper. Talentvolle akteur. Hy klink baie nederig.
Na dit spring ek in die kar en vertrek na Zoe's Coffee Shop, omtrent tien minute se ry van my woonstel.
Weereens, vir die rekord: Ek het aangetrek voor ek gery het...
Daar kom al die dominees in die Ring van Boskburg elke twee weke bymekaar om oor kerksake te besin. Vandag se tema moet ek lei, en op grond van 'n gesprek 'n paar weke terug gaan dit oor waardes. Watter waardes het ons in gemeen. Ek is 08:30 daar, op tyd. Die res, is egter nog oppad.
Op die ou end is daar vyf.verskillende gemeentes verteenwoordig. Ons gesprek duur bietjie meer as 'n uur. Elke predikant se insigte is waardevol. Mens kan baie leer as jy net leerbaar is.
09:40 betaal almal nog hul deel toe ons kelnerin nader stap. Hier 'n tien Rand, en daar 'n vyftig. Nico skuif al die geld bymekaar op 'n hopie en ek vra Leon om alles gou uit te sorteer. Ek moet ry. 10:00 hou ek 'n 20 minute saalopening by HTS Elspark, en dis 20 minute se ry.
My dag begin nou spoed optel...
Ek hardloop by Elspark terwyl die tieners al gaan sit in die saal. Gelukkig is die klankman 'n gemeentelid. Riaan, 'n finalejaar in graad 11. Altyd bereid om te help. Wonderlike karakter! Hy vat my laptop en ek wys vir hom wat ek waar wil wys vir die tieners, wat steeds die skoolsaal binne stroom.
Terwyl die skool lofprysing het bel ek gou my pa: "Dad... Hi dad... Nee, goed dankie, en jy... Dis mooi om te hoor. Kan ek nog daardie fiets vir die Sunfest kom haal more aand... Dankie, pa. Sien julle net-nou!" Na die lofrpsying is dit my beurt. Ek praat vir bykans 20 minute oor gemaksones, en daag die tieners uit om die avonture van God se genade buite hul gemaksones te gaan vind. As voorbeeld gebruik ek my, Juba en Werner se 31 dae backpack avontuur deur Afrika.
Ek het 'n boek daaroor geskryf. Oor gemaksones, en oor ons avontuur in Afrika. die een het duidelik met die ander te doen!
Na saalopening is dit kerkkantoor toe. Na ek my gholfstokke uit die kar gehaal het en in die kantoor gestoor het, is dit Johannesburg toe na my ouers se huis. Ek ry deur twee padblokkades oppad daarheen - dis mos einde van die maand vir die manne met die ornaje verf op hul karre en die lelike uitrustings. Die staat kon regtig die JMPD met mooier klere ge-issue het.
Ek briek by die huis. Terwyl my pa my 'n druk gee en my broer my hand skud gee ek al opdragte aan hulle deur: "Ek het nie baie tyd nie. Ons moet die fiets laai en dan moet ek weer go." Dis 'n wonder my broer het my nog nie geklap oor my houding nie. Wag, hy het al. 'n Paar keer!
"Jy kan eers koffie drink", sê hy. Ons drink koffie en kuier en laai die fiets alles in 20 minute. Pa is ook haastig. Ons al drie is maar altyd haastig.
Net voor 12:00 is ek terug by die kerk. Die middag bestaan uit my en Bernard wat oor-en-weer na mekaar se kantore stap met nog Sunfest reëlings. Ek sit my riglyne uiteen vir Sondagaand se Revolusie kerkdiens, ontwerp 'n blaadjie vir die kinders se lekkergoed pakkies (vir die Sunfest), werk die fietsry rooster uit (vir die Sunfest), en pak die lekkergoed wat gepak moet word uit sodat ek en die tieners dit later in die sakkies kan pak (vir die Sunfest).
Dis egter nie al nie. Ek koop twee toebroodjies vir die prys van die een, wat sover nog nie 'n fout is nie. Titia, ons baie bekwame sekretaresse, loer gereeld in die kantoor in om te hoor of ek koffie soek. Ek doen.
Ek tref nog reëlings (vir die Sunfest) en help Bernard om kos wat vir die CMR gekom het op 'n bakkie te laai.
Die hele dag deur dink ek aan Chanelle. Maak nie saak hoe besig ek is nie, sy vul my gedagtes. Sy is altyd om my, maak nie saak wat nie. Sedert sy die eerste keer aan my hand gevat het kan ek haar nie ontsnap nie. Nie dat ek in elk geval wil nie. Haar liefde trek mens in, en dis effortless! Ek weet nie wat 'n mooi Afrikaanse woord vir daardie mooi Engelse woord is nie.
Tussendeur droom ek. Nog iets wat ek nooit kan ontsnap nie. Ek sal altyd droom! God het 'n taak vir my in hierdie land.
Die aand bestaan uit lekkergoed pak saam met die tieners en nog finale reëlings tref (vir die Sunfest). Net na 20:00 ry ek huistoe. By die huis drink ek 'n glas Sprite en bevestig met al die leiers wat more aand by die kinderkerk help (gedurende die Sunfest).
Daarna begin ek blog, terwyl ek en Chanelle op BBM kuier. Sy laat weet egter dat sy moeg is en ek bel haar dat ons kan kuier, en saam bid (ons bid ook vir die Sunfest).
Terwyl ons bid stap Hannes die woonstel in. Na ons dubbele AMEN gooi Hannes vir ons elkeen 'n glas Sprite in en kom sit hier oorkant my en eet 'n cupcake. Hy tel die koerant op en begin lees. "So, hoe was jou dag, my vriend", sê hy terwyl hy verder lees, en ek hierdie blog tik.
Ons verneem na mekaar se welstand terwyl hy sy koerant omblaai. In die agtergrond speel Gangster Squad in die agtergrond op die playstation. Goeie fliek.
En dis my dag. Elke dag is anders wanneer jy 'n p-woord is.
Die prentjie in hierdie blog is waarksynlik reg. In een dag is jy as p-woord al daardie dinge. Jy is 'n kêrel vir jou meisie, 'n vriend, 'n organiseerder, 'n visionêre leier, 'n motiveerder, en vele meer.
Watter deel was die lekkerste? Elke deel... Watter deel sal ek wil oor hê?
Elke keer wat ek vir Chanelle kon sê ek's life vir haar, en daarna die voorreg om dit met julle te kon deel.
So lekker slaap, wêreld! Hierdie Rustelose Rakker is uit op sy voete!
Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking