Ek was maar altyd in die moeilikheid op skool. En Mnr Ben Botha, ons Tegniese Tekene onderwyser, het seker gemaak dat my boude die prys vir my stoutighede betaal.
Wanneer die skoolklok gelui het, was ek gewoonlik eerste om op te spring, net om weer te moet gaan sit na Ben Botha se woorde: "Sit Visssssser! Ek praat nog!"
Ek was egter nie net altyd eerste om op te spring wanneer die skoolklok lui vir pouse nie. Ek was sedert ek babataal met myself gepraat het, vol opinies oor alles. Mense wat vol opinies is, is geneig om hul hand op te steek vir elke vraag wat gevra word. Of jy nou die antwoord ken of nie, is irrelevant. Steek net jou hand op.
"Sit Vissssssssser. Ek praat nog!" was gewoonlik opgevolg deur "Jy het ook 'n opinie oor alles!" My ma was toe reg gewees. Dankie tog.
Mense wat te vining hand op steek is egter ook geneig om te vinnig hulself aan 'n saak te wy. nog 'n uitdaging vir my.
Dit was egter nie die geval toe ek myself aan die Winterskool by die Fakulteit Teologie te Stellenbosch gewy het nie.
Dag 1 het vandag begin, en hierdie Rustelose Rakker gaan elke oggend verslag gee van die vorige dag se gebeure.
Lees maar gerus elke dag. Die tema is aktueel. Die Skrifgedeelte wat aangevoer word as die tema kom uit die Boek Esther. "Juis vir 'n tyd soos hierdie!" God het Esther bemagtig met 'n spesifieke roeping vir die perfekte tyd.
Vandag se aanbiedinge deur onder andere Rhoda Kadali het my nederig gelaat.
Kom ek stel dit so: Nie een van die sprekers het oos Ben Botha nodig gehad om my te vra om te sit nie. Hulle het my aandag gehad!
Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking