04 Jun. 2013

'n Rustelose eerste dag op Stellenbosch

Ek is 'n doen-mens. Somebody that shoots first, and asks questions later. Aan hierdie karaktereienskap moet ek gereeld skaaf. "Jou grootste bate kan ook jou grootste las wees", sou my oorle oupa gereeld sê.
 
"Die begin van Stellenbosch se Teologiese winterskool gaan weereens 'n uitdaging vir hierdie Rustelose Rakker wees", het ek gister gedink.
 
Nie die geval nie...
 
Die sprekers was briljant voorberei, hul tema's aktueel.
 
Aan die einde van die dag sou ek hand opsteek, rusteloos entoesiasties om 'n verskil te maak.
 
 
 
Na 'n inleiding deur die dekaan, Prof Nico Koopman, het Rhoda Kadalie vasberade na die podium gestap. Wat gevolg het was 'n indrukwekkende uitdaging deur hierdie vryheidsvegter, aktivis en akademiekus.
 
"Ons is hier in Suid-Afrika vir 'n tyd soos hierdie..."
 
As dame het sy lesse uit Esther (uit die Bybel) se lewe terug gebring na ons konteks in Suid-Afrika. Gaan lees gerus die begin van Esther en vergelyk Ahasveros se leefstyl met die van President Jacob Zuma. Daar is groot gelyke.
 
Sy het ons herinner dat die pikeniek van 1994 verby is. Mandela is nie meer, en vandag se leiers is selfsugtig.
 
Ons moet skerp en bekwaam wees soos Esther om dinge in Suid-Afrika te swaai. Ons, volgens haar, is gewone burgers.
 
En die kerk? Die kerk wasop die voorgrond gedurende Apartheid. Jy het nie nodig gehad om te wonder waar die kerk se lojaliteit lê nie. Tutu was eerste om in die strate te stap, vuis in die lug, en voete stewig op die aarde.
 
Die kerk se roeping vandag is om sigbaar te wees.
 
Ons moet 'n verskil maak. Dis maklik om te maak of ons dit doen,het ek by myself gedink, maar ware eenheid neem tyd, en deursettingsvermoë, en bo alles integriteit. Iets wat sy duidelik gewys het.
 
Dankie, Rhoda, ek stem saam met daardie man in die gehoor wat gesê het jy kan maar president wees.
 
My rusteloosheid na haar sessie, was as gevolg van die feit dat ek ook vrae vra oor of die kerk werklik sigbaar is in sake rondom byvoorbeeld tienermeisies wat nie skool kan voltooi as gevolg van swangerskappe nie. Daar was 15 000 in Suid-Afrrika laas jaar.
 
Daarna kon ons kies tussen sessies deur 'n paar sprekers. Ek het Prof Stan du Plessis se sessie oor Suid-Afrika se ekonomiese toestand bygewoon.
 
Hy's nog jonk, maar verstaan presies wat in die land en wêreld aan die gang is. Sy wysheid is in lyn met dit wat ek Maandag aand op die vliegtuig na die Kaap gelees het. Die Financial Mail lieg nie sommer nie, alhoewel mens nie alles kan glo wat koerante sê nie.
 
Weereens was ek rusteloos. Die kerk moet 'n verskil maak deur 'n morele leefstyl voor te staan. Die kerk moet vir Zuma wys wat nedereig leef is.
 
Sy opsommings is akuraat. Sy geloof dat dinge kan verander is gegrond in God - dis duidelik!
 
Na middagete het Michelle Boonzaaier en Dr Elize Morkel se 2 ure sessie oor geweld teen vroue my rusteloos gelaat.
 
Hul navorsing en integriteit sal my lank bybly - ware dames, maar met 'n sterk boodskap.
 
Hul liefde vir die mans in hul lewe is duidelik, en pragtig.
 
Weereens was ek rusteloos. Ek moet aanhou om 'n liefdevolle man te wees vir Chanelle, en 'n voorbeeld vir die jong manne rondom my.
 
Rusteloos sien ek uit na vandag se sessies!

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking