09 Mei 2013

Naalde en persepsies

Wanneer ons gemaksones geskut word kan dit baie seer wees!

Dink maar aan die dogtertjie wat elke aand bid dat haar ouers nie moet skei nie. Dis 'n gemaksone, in hierdie geval 'n veilige ruimte, wat geskud word. Gemaksones kan seer maak.

Maar ander kere is dit die idee dat dit sal seer wees wat die seerste maak. Soms is ons vrees om 'n gemaksone te verlaat, een van myne was naalde en bloedskenk, nie gegrond nie.

My vrees vir naalde en veral bloedskenk, was ongegrond.

Ek het vir jare lank in 'n gemaksone geleef wat nie nodig was nie.

Ons persepsies is soms ons grootste gemaksone, en as ons daardie gemaksone kan uitdaag, kan ons baie meer vermag as wat ons ooit besef!

So vir die nuuskieriges, hier is my bloedskenk-verhaal.

Na ek bitterlik vroeg wakker word en een koppie koffie drink jaag ek na die eerste skool waar ek 'n Pinkster diens moet aanbied. Daar is drie.

Eers na Laerskool Whitfield, en daarna 'n vergadering saam met die ander dominees van ons Ring. Die venue: Wimpy. Waar ek myself kan verlustig in iets om te eet.

Daarna Laerskool die President in Primrose. Net voor 11:30 spring ek in my kar en jaag na die volgende Pinksterdiens, die keer in Engels by St Michaels Privaatskool in Boksburg se midde-dorp.

Ek was nie lank klaar nie toe Jaco bel: "Gaan jy nogsteeds bloedskenk vandag?"
"Verseker", antwoord ek.
"Hoe laat gaan jy?"
"Ek sal oor tien minute daar wees. Sien ek jou daar, Jax?"
"Yes. Ek is by die East Rand Mall. Sien jou daar."
"Nice! Sien uit daarna!"

Ons groet mekaar soos goed opgevoede Afrikaners en nie lank daarna nie stop ek by SANBS - South African National Blood Service.

Die oomblik van waarheid.

Dit voel asof ek ondervra word soos 'n dwelmdief in die vorms wat ek moet invul, maar doen dit met 'n glimlag.

Ek sit al in die stoel en wag vir die steekding om in my arm gedruk te word toe Jaco daar in stap.

"Het jy al iets geëet? Drink iets! Dit vat aan jou die eerste keer wat jy dit doen!"
"Klink goed. Kom ons maak so!"

Oppad na een van die grootste bakke koekies wat ek in my lewe gesien het, neem ons 'n foto!


Sover gaan dinge goed!

'n Vrou met 'n Afrika naam wat ek te simpel voel om te vra hoe om uit te spreek druk die steekmasjien in my arm.

Sover gaan dinge goed!

Ek en Jaco kuier lekker, en hy neem 'n foto!


Na so tien minute begin dinge egter dronkerig rondom my raak. Dit voel asof ek op matriek vakansie is, minus die drank.

Ek ken hierdie gevoel. Ek het dit al baie beleef. Soos die keer toe ek in grad 5 kop eerste in 'n paal in getekkel was, en flou val. Of die keer in 'n rugby wedstryd teen Potch Gym toe ek van agter af getekkel was en my kop drie keer die grond tref en ek na twee probeerslae om op te staan neerval.

Ek gaan nou flou val.

'n Koue sweet tap my af, en Jaco vra of ek okey is. My tong sleep so bietjie, soos die keer toe 'n ouer seun my in grad 6 van my voete af geslaan het. Hom, kon ek darem terug bykom. Sy tong sleep glo nou nog.

"Ek dink ek gaan flou val."
"Jy't te lanklaas geëet. Hier vat 'n koekie." En ons begin 'n veldtog om omtrent 12 koekies te eet.

Vir die record, ek het nie flou geval nie. Ek het net nie lekker gevoel nie!


Ek weet, dit lyk nie goed nie. Dit was amper, maar die meisie met die snaakse Afrikanaam kom haal die naald uit.

Jaco lag. Ek skud my kop so sewe keer en trek my oë groot oop soos 'n uil s'n.

Ons drink koffie (dis verniet, en word hoogs aan bevel), en sê totsiens vir mekaar.

"Thanks, Jaco. Dit was lekker om buite my gemaksone te beweeg met jou by my. Dis 'n voorreg."
"Vir my ook." Jaco se rustige en nederige gees sal hom nog lank help in die toekoms!

Ek klim in my kar en ry huis se kant toe, waar ek begin beplanning doen vir Sondag se kinderkerk, asook die blikzim-projek.


Dit was nie so erg soos ek gedink het nie. Om die waarheid te sê, dit was 'n avontuur.

Een wat ek oor presies twee maande sal herhaal, al steek dit so bietjie!

Naalde en persepsies. In hierdie geval was naalde die persepsie!

1 opmerking:

  1. Welgedaan!! Trots op jou dapperheid, al lyk jy nogal bleek om die kiewe het jy iets van jouself gegee wat niks kos nie en soveel lewens kan red. My 1ste keer was by 'n baba expo, ek het die gemaklike verskoning vir jare gebruik dat my yster te laag was. Toe ek die hulpelose pas gebore babas op die posters sien toe versag my hart, en ek gaan by die tentjie in. Ystervlakke piekfyn, papierwerk was ook op ou ent die grootste pyn! En van daar af was ek hooked.
    P.S Elri moes ook bloed kry toe sy in die hospitaal was en dit het my goed laat voel om te besef dat daar ander mense is wat iets van hulleself op offer. Op 'n onbewustelike manier het daai persoon 'n aandeel daarin gehad om my dogtertjie se lewe te probeer red. Jy weet nooit wanneer jy dalk bloed gaan nodig kry nie...

    AntwoordVee uit