28 Apr. 2013

'n Rustelose wat?

Rustelose Rakker...
 
Dit laat 'n dubbele hoekom in meeste mense se koppe opkom.
 
Die eerste hoekom is rondom die naam. Dis rusteloos, want ek is rusteloos. Sedert ek my doek kon vuil maak was ek rusteloos. Die eerste voorbeeld van rusteloosheid wat ek as bewysstuk kan indien is dat my ma my op my kop laat val het toe ek 'n baba was. Sy was glo besig om my doek om te ruil toe sy die telefoon hoor skree het. Volgens haar was sy skaars weg toe sy hoor hoe iets, ek, op die grond val. Volgens haar het ek nie gehuil nie, wat haar nogal oor haar pasgebore seun laat wonder het.

Meeste baba's, weereens volgens oorlewering, begin eers op 11 maande loop. Ek het die regop-loop wêreld rusteloos op 9 maande betree.

Vandaar sou my rustelose avonture my regdeur Suider-Afrika neem. Altyd aan die beweeg. Altyd aan die ervaar. Altyd rusteloos.

Skool periodes was te lank vir my. Heeltyd sit was 'n marteling, alhoewel die avonture van die Uile of The Hardy Boys my vir ten minste 'n uur kon laat lees op 'n slag.

Rusteloos! Steeds so. My kantoor het nie venster nie, wat my gereeld na 'n koffie winkel jaag. Ek sukkel ook daarmee om een ding op 'n slag te doen. Wil alles ten minste een keer beleef, selfs diè wat seermaak, soos tande uitval (rusteloosheid), geslaan word (rusteloosheid), by 'n brandende bus uitspring (rusteloosheid).

Daar is immers meer aan die lewe as sit en wag vir dinge om te gebeur.

Dit bring ons by die Rakker-ding. Ek en Chanelle was skaars verlief in Augustus laas jaar toe sy my hierdie titel gegee het. Rakker. "Kyk, van rakkerwees kan hulle jou niks vertel nie", sou sy sê as ek iets aanvang wat my rakkerwese beklemtoon.

"'n Rakker tot die einde toe, nè", sou sy sê, terwyl sy haar kop skud en glimlag, en ek gewoonlik lag.

Ek is 'n rakker, altyd reg vir een of ander kattekwaad, manewales of avontuur.

En dis waaroor hierdie blog gaan. 'n Rustelose rakker, wat van kleins af 'n groot avontuurlis vir alles wat die lewe bied gehad het, wat gereeld gefoeter was daaroor, wat gereeld gevra word om sy rakkerwese stories aan almal te vertel.

Dit gaan egter ook oor 'n Rustelose Rakker wat steeds op avonture gaan wat ou tannies laat bloos of kop skut. Elke week gaan ek op een of ander avontuur. Van leer brei vir 'n kerkprojek tot kaalvoet loop vir 'n week, of weier om die frase 'kan nie' vir 'n bepaalde tyd te gebruik. Publieke vervoer vir 'n week? Klink soos 'n avontuur vir 'n Rustelose Rakker.

Die vraag is hoekom blog oor hierdie avonture?

Sodat jy kan lag (iets wat elkeen nodig het), ek kan skryf (my passie), en ons almal uitgedaag sal word met die frase: EK KAN!

Lekker lees, lekker lag, en onthou: Ons almal het 'n rusteloosheid in ons om die wêreld te verken! Gryp dit! Moenie terug hou nie!

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking