Ek brei eintlik al van die begin af...
Die brei waarvan hier gepraat word is nie die brei wat ons ouma's en ma's voor die TV doen nie. Dis die tipe waar jy gggggg, in plaas van rrrrrrr, as jy jou naam probeer uitspreek.
"My naam is Geggit." So sou ek myself breierig voorstel.
"Wat? Gekkit?
"Nee", sou ek sê terwyl ek my mond probeer skoonmaak: "Gegrit."
"Oooo, Gerrrrrrrit."
"Jaaaa", sou ek dan terugkap.
My ouers kon nie weet dat 'n naam met twee r'e in soveel uitdagings sou veroorsaak nie. Dit was natuurlik nooit 'n uitdaging in die Kaap nie. Daar brei bykans helfde van die populasie.
Aangesien ek sedert kinderjare brei, het ek besluit dat Rustelose Rakker se eerste uitdaging sal wees om dan ook te leer brei, met die penne en die wol en alles.
"Vir wat wil jy leer brei?" Die vraag wat ek 'n paar keer gekry het.
"Ek brei mos nog heeltyd!" My antwoord.
"Ag man, jy weet wat ek bedoel", sê meeste dan terwyl hulle lag.
Die werklike antwoord: "Ek's rusteloos. En dit gaan vir 'n goeie doel."
Die serp wat ek gaan brei is vir 'n minderbevoorregte kind wat hierdie winter gaan koud kry.
Wat maak jou so rusteloos dat jy bereid is om dit te verander!
Onthou: Wees rusteloos, en jy sal vind hoe grensloos die lewe werklik kan wees.
Ek weet nie wat ek alles gaan beleef gedurende my rustelose breiwek hierdie week nie. Gaan ek lag, gaan dit my walg? Ek weet nie.
Kom vind saam met my uit hierdie week!
Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking