Ek brei en ek brei en ek brei, en my arm raak lam en die sweet tap my af.
Brei is harde werk!
My pa loer oor my skouer en vra: "Is dit 'n strikdas of 'n serp?"
Maandagaand het ek met die serp breiery besigheid begin. My ma het my gewys hoe (diegene wat wil sien hoe ek en myse moeder dit so saam-saam doen, kan op Facebook gaan kyk).
Die heel aand bestaan verder uit ek wat brei, my ma wat brei, en my pa en broer wat lag.
Ek is besig om 'n serp te brei vir 'n agtergeblewe kind, maar die eerste paar rye lol baie. Hierdie Rustelose Rakker het duidelik 'n groot rustelose taak aangepak.
Brei is nie vir sussies nie.
Dis nou Vrydag oggend, en die eerste geleentheid wat ek het om weer die breinaalde nader te trek, en ek moet in alle eerlikheid sê dat dit beslis 'n groot uitdaging is. Nes ek die naalde vinniger deur die wol begin werk word dit 'n koekspul wat lyk soos 'n deurmekaar bol.
Not ayoba!
Ek is mal oor uitdagings, veral diè buite my gemaksone, maar hierdie uitdaging gaan dalk nie klaar wees teen Sondag nie.
Daar is 'n paar feite wat jy moet onthou wanneer jy jouself buite jou gemaksone uitdaag. Een daarvan is dat jy nooit presies seker kan wees van die resultate wanneer jy buite jou gemaksone beweeg nie.
Ek het geweet brei gaan 'n uitdaging wees, en daar is 'n hele paar aspekte van die uitdaging wat ek geweet het 'n onbekende is. Gaan my vingers die kuns kan bemeester? Gaan ek betyds klaar wees? Gaan dit mooi wees?
Alles onbekendes. Om jouself uit te daag het altyd onbekendes.
Indien jy besluit om jouself buite jou gemaksone uit te daag moet jy weet dat al wat jy sal hê jou karakter is. Die eienskap wat in hierdie situasie die belangrikste is deursettingsvermoë.
Perseverance is the hard work you do after you get tired of doing the hard work you already did
- Newt Gingrich -
Deursettingsvermoê, by implikasie, is dan gekoppel aan tyd. As jy 'n moeilike taak het om te voltooi is dit belangrik om jouself tyd te gee om dit te voltooi.
Dis juis hier waar die uitdaging is die grootste is. Hierdie Rustelose Rakker het nog tonne werk om vandag gedoen te kry, en 13:00 sien ek 'n uitgewer vir my boek.
Dus: Is dit tyd om klaar te blog en te begin werk.
My boodskap vir vandag is eenvoudig: Wanneer jy jouself uitdaag om buite jou gemaksone te beweeg is daar altyd onbekendes. Dis 'n realiteit. Maak vrede daarmee. As jy egter weet wat die uitdagings is om jou doelwit te bereik, moet jy die nodige verstellings maak om dit te bereik...
Selfs al lyk jou serp sover soos 'n strikdas.
Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking